Thursday, August 16, 2012


Marika


Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Netjiese kapsel, amper te netjies vir so laat in die middag”, dink ek grom van my agtste plek in ‘n deurmekaar ry oor die assistant by die toonbank. Uit verveling begin ek toe maar die man voor my in die ry se hare te besigtig. Sal se so 63 persent van die swart kortgeknipte haartjies is grys. Dis nogal ‘n mooie man, hy wil seker nie kleur gebruik nie.

Ek dink aan my pa en oupa wat  nie eens weet of geweet het van kleursel vir mans hare nie. Wat is dit met van ons vroue dat ons nie wil grys lyk nie? Uit die vyf vroue in die ry is nie een grys nie. My eie hare dreig elke ses weke om my ouderdom te verklap as ek hulle nie dadelik na die haarkapper vat nie. Wat ‘n duur storie is dit nie, veral met so ‘n boskasie lang swart hare.

Die vroutjie by die toonbank gaan nou regtig van klein na kleiner in my oe. Sy is al hoe lank besig om haar vingers om daai note te draai en geld in en uit die laai te pluk. Die bekkie stop nie vir ‘n oomblik nie. Dit maak mens wonder of sy uitgehonger is vir geselskap of ly sy maar bloot aan verbale diaree. Hoe besig lyk sy nie, maar o wee, so stadig. Teen so ‘n trant kan mens maar vergeet om die middagverkeer huis toe te vermy.

Dis nie lank daarna nie toe ‘n kortgesette persoon in die tou haar mening met die dame agter haar deel. Jy kan sommer hoor sy gaan alles hard en duidelik uitspel wat ons ander te bang is om selfs aan te dink. Voor sy haar vloermoer kon klaar gooi, kom druk daar sowaar ‘n lang man voor ons ander in. Die arme man moes toe maar aanhoor dat hy hom self verwar deur te dink die tou eindig by die plek waar hy indruk. Skaam-skaam gaan staan hy toe maar agter in die los gebondelde tou.  'n Paar van ons skape in die ry kry die man jammer.

Uit  blote desperaatheid (daar is nie melk en brood in die huis nie) hou ek toe maar uit en aan my mandjie voor my uitskop vir elke spasie oppad na die wenstreep. Eindelik beland die ewe voos mandjie op die toonbank. Gunter weet waarom daar nie meer bedieningspunte oop is hierdie tyd van die dag nie. As ek meer tyd had sou ek darem graag met die bestuurder ‘n paar woorde wou wissel .

Elfuur die aand le ek heerlik in my sagte hemelbed en dink aan die dag wat verby is. Wat ‘n klein maar groot plesiertjie is dit tog om na alle frustrasie en irritasie, van rondhol regoor my klein aardbol hier in die veilige hawetjie te kan le en rus … tot more weer kom.

No comments:

Post a Comment