Toe toilet nog ’n klein oord van gemak was
2012-10-30 22:22- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Dana Snyman
Onlangs kom ek weer in ’n huis met só ’n toilet. Ek praat van ’n fleurig ingerigte, Christelik-Nasionale toilet met ’n gehekelde oortreksel oor die ovaal sitplek en die reuk van nagemaakte appelbloeisels in die lug.
Hoe het die oumense dit nou weer genoem? ’n Gemakshuisie. Is dit nie presies wat die toilet eens op ’n tyd in so baie Afrikaner-huise was nie? ’n Klein oord van gemak, waar jy die natuur sy gang kon laat gang terwyl jy deur ’n ou Reader’s Digest blaai of sommer net staar na die foto van Tafelberg – van Bloubergstrand af – op die almanak agter die deur.
Soms was daar ’n kerkalmanak waarop iemand in ’n bewerige skriffie by datums goed geskryf het soos: “Poppie van Herklaas”, “Tandarts” of “Opel moet ingaan vir diens”.
Wat het ons dit ook eens genoem? Die troon. Jy het op die snoesige troon gesit, met ’n stapeltjie voos tydskrifte langs jou op die vloer en ’n daddy longlegs-spinnekop bo jou teen die plafon. En nie net oor die troon se sitplek was ’n gehekelde oortreksel nie. Daar was ook een oor sowel die toiletbak- as die spoelbak se deksel.
O, en moenie daardie ekstra toiletrol vergeet wat altyd op die troon gestaan het nie – die reserwerol. Party vrouens het selfs ’n oortreksel vir hierdie reserwerol gehekel. Asof party dit ’n persoonlikheid wou gee, want soms het hulle daardie oortreksel ’n gehekelde gesiggie en sulke slap arms en bene gegee. Soos ’n impakspeler, soos Brok Harris op ’n Saterdag op Nuweland, het die reserwerol daar op die bak gewag.
In party toilette het ook ’n gehekelde houer met vyf of ses bykomende reserwerolle gehang – ’n gerusstellende gesig vir die dag waarop Ma of Ouma dalk besluit om in die kombuis met ’n kerrie te eksperimenteer.
Op ’n manier is dit gepas dat jy die reeks oortreksels dikwels op ’n kerkbasaar kon koop. Dit was asof die kerk ook eens betrokke was by die inrig van die toilet – die Christelik-Nasionale toilet. (Tussen daardie ou tydskrifte was ook altyd ’n ou Kerkbode en Voorligter).
Min sulke toilette se deur kon sluit, wat soms ’n probleem was – veral wanneer die dowe Oupa met sy kierietjie teen die deur kom kap en nie hoor hoe jy “Besigggg!” gil nie.
Soms was daar ’n styf opgerolde stukkie toiletpapier in die sleutelgat gedruk. Dit het my altyd met effens ander oë na die huismense laat kyk, en laat wonder: Wie is die een wat die ander in die toilet probeer afloer?
Min huise se toilette kan deesdae nie sluit nie. Min toilette het nog ’n lekker gehekelde oortreksel oor die sitplek. Die toilet in die moderne Afrikaner-huis is deesdae minimalisties gedekoreer: ’n toiletrol teen die muur, ’n borsel in die hoek. Dis al.
Die toilet is nou ’n plek om in zen-agtige eenvoud te doen wat jy nie kan vermy nie.
Die troon het ’n tregter geword.
- Volksblad