Saturday, February 18, 2012

Nog 'n Flerrie uittreksel - van werelde oorkant die maan

“Is jy man of muis?” “Mot of Magrietjie?” “Aanhouer wen”, “Wie nie waag, wen nie” ryg maar die spreuke in soos sy wil, nie een slaat haar wakker nie. Dis ‘n vreeslike ervaring om te weet jy kan ontsnap maar die bewegingsrede is so swak dat mens nie wil verander nie. Party noem dit aanhouding, ander se jy is ‘n gevangene of sommiges se plein reguit jy’s vasgeplak in sonde. Flerrie se dilemma le nie soseer in die sonde-doen afdeling nie. Sy wil eerder ‘n metamorfose ondergaan sonder om moeilikheid saam te sleep.

Wik en weeg, hierdie kant toe en daardie kant toe vir soveel jare al. Op ‘n dag wat sy dit die minste verwag gebeur dit toe. Dit was ‘n Woensdag. Nou,daar’s drie dae links en drie dae regs van Woensdag. As ‘n reel dink Flerrie nie aan Woensdag se patetiese posisie nie. Dit het egter nou waarde gekry – soort van ‘n mini-allegorie spesiaal vir haar. ‘n Niksseggende dag word die as waarom die res draai in Flerrie se lewe. Haar besluit is gemaak.

“’n Koei wat gaan le, vrek” tref dit haar. Dis sy hierdie. Op die televisie daai aand het ‘n vrou vertel hoe sy net wou gaan le soos ‘n doodgaan koei op haar plaas. Haar hele getroude lewe lank het sy en haar man skatryk kon boer. Topklas burgers van die dorp. Eenklaps is alles toe weg – geld, status, eiendom. Uit ondervinding van die plaaslewe het hierdie vrou besef sy moet iets doen om te oorleef. Die einde van die storie is dat sy ‘n suksesvolle besigheid kon step uit ou metaalstukke. Sy het pragtige blomme en ornamente daarvan gemaak en verkoop dit steeds. Nie alleen is hulle uiterlik geseen nie. Van binne het sy baie verander en nuwe genietinge ontdek.

Gou het Flerrie haar losgeknip van lostong-vriendinne. Geen rouers en klaers vir tee nie, dankie. Facebook vriende se grappies wat Flerrie “g-g-g” laat maak blok sy nou. Grappies moet sterk wees, baie dinamiet in die vuurpyl. Skiet hy af dan fluit dit die hemelruim in en kom die verskriklikste lekkerste lag. Dit ruk en druk sensasioneel tot sy wens dit stop en uiteindelik dan voel Flerrie se lyf so vry.

Haar naels het amper een sentimeter lank gegroei. Geen kat urine of duur botteltjie naellak verf sy meer aan haar naels nie. Daarsonder kom sy klaar, dankie. Vaal muishaartjies is peperrooi gekleur. Almal dink sy is pragtig. Trippel trappe deesdae op dun tien sentimeter hakkies sonder om ‘n gram ekstra vet te dra. Die lewe is mooi. Selfs gooi Flerrie ietsie in vir die verstoorde boemelaar voor die woonstelblok en doen hartlik liefdadigheid vir Japsnoet kindertehuis so paar blokke weg.

Dis toe diewe haar kaste kom uitgrawe dat sy op die laagste punt was voor die ontluiking. Met die laaste inbreek sessie kon sy skoonmaak na die tyd en selfs in die hof getuig. Sy is versigtig maar glad nie meer manies nie. Voorheen het sy haar oe uitgehuil van bangheid as sy die lig afsit om te slaap. Deesdae prop sy ‘n klein elektriese kersie in wat deur die nag vrolik brand as sy spontaan reis na werelde buite grense.


No comments:

Post a Comment