Friday, August 12, 2011

Stap

Hier in Kanada moet jy maar stap as jy kan gaan stap want kort voor lank is die jy weet watter seisoen weer op mens.

Mens gaan deur sulke siklusse as dit by stap kom. Eers maak jy alles gereed om te gaan stap en besluit veral dan of die hond mag saamkom of nie. Vandag moes sy bly want ek kon nie die idee van ver stap met die hond die rivier langs (sy mik en druk altyd vir 'n swem), drie manne se grappe, stamp en gestotery en my moee bene als op een slag geestelik dra nie.

So aan die begin van die stap druk ons onbewustelik een die ander weg om te stap waar jy wil wees in die troep, dan steek ons so-so hier daar met ligte gesprekke om darem nie so stil te wees nie en om ten minste iets te doen he op die vervelige eerste deel na die park.

Dis nie lank nie dan begin my manne mekaar stoot en terg. Dis ook die tyd wat jy moet luister as fiets klokkies waarsku hulle gaan verbykom en jy aan jou deel van die paadjie moet stap. Elke keer skree iemand in die troep uit 'n fiets kom aan. So gaan dit dan aan vir amper die hele twee derdes van die pad na die kafee in die park.

Daar gekom vra die meerderheid vir 1 "scoop of ice-cream". Die ander fraksie neem altyd 2 of 3 "scoops". Lekker eet ons onder die koelteboom tot iemand hoogs aktief raak en die ander aanhits vir dis nou tyd om huistoe te gaan. Teen die tyd is ons al moegerig en het presies die helfte van die pad oor om tuis te kom. Dis dan wanneer ons stiller raak en sien hoe mooi dit om ons is, 'n gesprek alleen met een in die groep voer oor dinge wat die hart raak...

Net voor die brug is daar 'n bos wat iets in die manne wakker maak. Dis dan wanneer hulle mekaar jaag of resies jaag en wat nog. Ek probeer dan maar net aanstap en byhou so goed moontlik. Op sulke tye tref nare gedagtes my oor hoe vervelig dit is om so alleen te stap en hoe erg dit hier in Kanada is. Op die brug krimp alle lelikheid want die rivier is altyd nostalgies mooi. Dis so lekker om aan die kant van die brug oor te leun en diep in die rivier te staar.

Na die brug weet ons bene hulle moet nou hol vir die huis, soos perde wat terug stal toe jaag. Mens dink dan nie veel nie, behalwe aan die koue lemoensap in die yskas.



No comments:

Post a Comment