Saturday, August 13, 2011

Pfft pfft die dag is uit

Saterdae aande mik ek altyd om presies om middernag die rekenaar af te sit. Vanaand is ek agter want dis nou net drie minute oor twaalf.

Op Sondae word die rekenaar nie gebruik nie. Ons gaan kerk toe en verkeer met vriende vir die dag, lees geestelike literatuur of as die moegheid 'n oorhand kry, word daar geslaap tussen die 10 en vieruur diens.

Wat 'n dolle begin het die dag nie gehad nie. Sesuur lui die deurklokkie. Andre antwoord en skrik hom boeglam. 'n Kort Chinese vroutjie met 'n oorvloed lyne op haar gesig beduie wild na iets wat buite aangaan. Eers probeer my brawe Andre die vrou kalmeer en so slaan die volgende skokgolf hom. Nie ver van die huis nie staan 'n poedel kaal man - bevry van alle kleding. Hy maak of hy deel van die geile natuur om hom is.

Om 'n lang storie kort te knip - die vroutjie is ewe beleefd deur Andre op 'n uitkomsroete gesit sodat sy aan die ander kant van die huis en in 'n ander deel van die woonbuurt kon huistoe stap. Wat van die kale man geword het weet niemand nie. Het darem vir die eerste keer in vyf jaar hier in KK al die deure gaan sluit.

Goeie more!

Friday, August 12, 2011

Stap

Hier in Kanada moet jy maar stap as jy kan gaan stap want kort voor lank is die jy weet watter seisoen weer op mens.

Mens gaan deur sulke siklusse as dit by stap kom. Eers maak jy alles gereed om te gaan stap en besluit veral dan of die hond mag saamkom of nie. Vandag moes sy bly want ek kon nie die idee van ver stap met die hond die rivier langs (sy mik en druk altyd vir 'n swem), drie manne se grappe, stamp en gestotery en my moee bene als op een slag geestelik dra nie.

So aan die begin van die stap druk ons onbewustelik een die ander weg om te stap waar jy wil wees in die troep, dan steek ons so-so hier daar met ligte gesprekke om darem nie so stil te wees nie en om ten minste iets te doen he op die vervelige eerste deel na die park.

Dis nie lank nie dan begin my manne mekaar stoot en terg. Dis ook die tyd wat jy moet luister as fiets klokkies waarsku hulle gaan verbykom en jy aan jou deel van die paadjie moet stap. Elke keer skree iemand in die troep uit 'n fiets kom aan. So gaan dit dan aan vir amper die hele twee derdes van die pad na die kafee in die park.

Daar gekom vra die meerderheid vir 1 "scoop of ice-cream". Die ander fraksie neem altyd 2 of 3 "scoops". Lekker eet ons onder die koelteboom tot iemand hoogs aktief raak en die ander aanhits vir dis nou tyd om huistoe te gaan. Teen die tyd is ons al moegerig en het presies die helfte van die pad oor om tuis te kom. Dis dan wanneer ons stiller raak en sien hoe mooi dit om ons is, 'n gesprek alleen met een in die groep voer oor dinge wat die hart raak...

Net voor die brug is daar 'n bos wat iets in die manne wakker maak. Dis dan wanneer hulle mekaar jaag of resies jaag en wat nog. Ek probeer dan maar net aanstap en byhou so goed moontlik. Op sulke tye tref nare gedagtes my oor hoe vervelig dit is om so alleen te stap en hoe erg dit hier in Kanada is. Op die brug krimp alle lelikheid want die rivier is altyd nostalgies mooi. Dis so lekker om aan die kant van die brug oor te leun en diep in die rivier te staar.

Na die brug weet ons bene hulle moet nou hol vir die huis, soos perde wat terug stal toe jaag. Mens dink dan nie veel nie, behalwe aan die koue lemoensap in die yskas.



Wednesday, August 10, 2011

Alweer Woensdag

Woensdae is klein-Saterdag, se party. Ek dink nie so nie, eintlik dis die eerste keer dat ek hieroor dink. Woensdag is vasgevang tussen drie dae van links en drie dae van regs. Woensdae is soos my lewe, dis net dat ek meer (en by verre te veel) dink oor my eie ingehoktheid as oor Woensdag se patetiese posisie.

Hoe dit ookal sy, dis Woensdag vandag erens in 2011 se Augustus-maand. Mens kan nie te veel oor die weer hier in KK (koue Kanada) praat nie. Op die oomblik is dit net lekker, so hier om en by 23 grade. Gister het gevoel of my maag by my mond uitkom van al die ellende wat hier bo in my kop broei. As iets uitbroei kan jy dit darem sien en 'n besluit daaroor neem, is dit nie? Maar die gebroeiery is so goor want wat gaan nou eintlik uitbroei? Dis nag as jy so daaraan dink. Veronderstel mens hou op broei? Jy broei eenvoudig nie meer nie en ignoreer enige broei pyne. Wat dan? Nee, ek weet nie. Klink na 'n beter opsie miskien. Flerrie gaan nou ophou broei, Flerrie gaan nou ophou broei, Flerrie gaan nou ...

ophou broei!

Lag en almal lag om jou - het al daai een gehoor? Kom ons lag, lag dat die trane uitkom. Het hoeka juis 'n "friend" op facebook wat elke ander dag so 'n grappietjie pos. Dis eintlik net snaaks genoeg om oor te ggg en nie te hahahaha nie. Ek kort iets sterker, meer dinamiet in die vuurpyl voor jy hom afskiet en dan as hy fluitend die ruim inpyl, dan kom die verskriklikste lekkerste lagste lag. Dit ruk en druk sensasioneel tot jy wens dit stop en uit eindelik dan voel Flerrie se lyf so vry.

Tuesday, August 9, 2011

Flerrie

Flerrie is in aanhouding, vir jare lank al. Dis nou die laaste paar jaar dat sy so in haar gut voel sy gaan uitkom, gouer of later. Leer van tyd om te weet van tyd het iemand haar dekades gelede toegesnou en sy nie `n clu gehad wat dit kon beteken nie. Sy weet nou, o jinne, sy leef elke nuanse van hierdie stelling.

Dis nou hier waar die blog begin ...