Friday, February 10, 2012

Mevrou Dominee


Kop, skouers en die lyf kan ek nie op eerste reaksie onderskei nie.

Om bietjie dieper te dink sien ek een van hulle hartlik geset en borrelend van geesdrif met die swart handsakkie aan die arm. My vriendin sou giggelend se dis ‘n regte tuisgemaakte oumens- sakkie. ‘n Ander een onthou ek weer as sterk en fiks , kort seunskapsel afgerond met praktiese kleredrag. Klokslag sny sy weekliks deur klankgrense heen met die een been op Perfeksionis en die ander op Genade. Sy hou ons goed aan die gang. ‘n Bekende oom doom se stralende vroutjielief was weer so lief vir die apteek se mooimaakgoedjies Haar sagte reuk sou wel iewers in die saal hang waar die pienk lippies en titsel blou geverfde ogies ookal kuier.


Al hierdie vroue is soort van geraam in kompleksiteit van begrip en geheue oor wie hulle nou eintlik was of is. Kopknikkies kon formeel of hartlik wees, hang af van waar jy staan in die dorpie se groot prent. Kan nie dink aan een van hulle huise sonder die regop klavier met die blokfluit of twee iewers in dieselfde politoerhout vertrek nie. Snotty en styf kon hulle maar wees, nes die huise. Soveel mure om hulle bou sommige dat jy nie in ‘n leeftyd genoeg stene kan verwyder om te sien wie is Mevrou nou eintlik nie. Die gemeente se taak le erens anders. Wie is die individuele sy wat jy ontdek? Maak nie saak nie. Sy is Mevrou. Leidster van die Vrouediens, organiseerder van KJA se tweehonderd skool -en koshuiskinders, baas bakster, Bybelstudie samesteller , … , vroue diktator, sedepreekster by Klub 16 vir tienermeisies, pastorievrou.

Natuurlik het mevrou dominee haar voorkeure van wie doen wat op haar radarskerm. Sekere vriende se kinders word as leiers verkies wat nooit anders ‘n leier kon wees nie. Sy gee toestemming dat die byna blinde Tsimon wat skaars kan werk oor die aids in sy lyf by die pastorie se buitekamer kom intrek, kamtig om tuinwerk te doen. “Mevrou se pastorie deure is veronderstel om oop te staan”, skerts tant Kotie . Sy wat Kotie is, is die een wat die spit afbyt, “gmpff” nie die Missus nie. Saam het Tsimon en sy al kilometers in die groot pastorie tuin afgele oor werk wat nog versonderstel is om te gebeur. Maak nie saak hoeveel wielie -walies tant Kotie doen nie , Tsimon hou by sy spoed. Een aand laat staan Gersandatjie van so in die stoute veertigs vir die soveelste keer met rooigehuilde ogietjies voor die pastorie se toe deur . Daai stout sproetkop seunjie van dominee in sy pajamapak ruk die deur oop en se nukkerig hy sal sy ma gaan roep. Nadat mevrou kom hoor wat aangaan, trek sy net so dun strepie om die mond en se kom maar in en wag vir dominee in sy studeerkamer tot hy netnou terug van vergadering is. Sprake van tee is daar nie . Jy sien, die Geagte bad nou eers die baba en gaan dan voed. Tyd vir vroue in nood is daar nie. Die ander vyf neem behoorlik die huis op horings wat maak dat Gersanda wens sy het liewers erens anders heen gery.

Gehoor van die slag toe Mevrou en ‘n ouderlingsvrou ‘n dame by haar huis gaan besoek? Die kindjie wat hulle innooi kom sit by hulle twee in die sitkamer om te se haar ma is amper klaar, sy kom nou-nou. Dis net toe dat die ouderlingsvrou die dame van die huis blitsig sonder ‘n draad klere sien verby hardloop en skree sy gaan net gou iets aantrek. Mevrou met haar rug na die gebeure se toe “Nee wat, moenie moeite doen vir ons nie. “ Nodeloos om te se Mevrou en ander het hul pap gelag toe sy later uitvind wat nou eintlik gebeur het.


Mevrou Dominee is in die vorige eeu of twee geprys as ‘n amper koningin van die samelewing waaraan sy behoort. Sy sou in die eerste en belangrikste bank van die gemeente sit. Dis destyds in die agtien honderds op Stellenbosch bepaal. Oorlogveterane, die huidige magistraat sowel as die vorige magistrate wie se vroue nog lewe het nie eens daar kon sit nie. Hulle sou later die banke inneem na gelang van posisie van die eggenoot. Trou ‘n dame met die predikant, is haar status gewaarborg. Haar pligte en regte was indrukwekkend Soos wat die dekades later van tyd deursypel raak haar prestige laer. Sprake van selfbeeld is daar nie meer na haar troue nie. Sy is voorwaar soos die apostel Paulus in twee Korintiers ses se iemand wat nie die bediening wil beklad nie. In verdrukkinge, in node, in benoudhede, in slae, in gevangenskappe (Mevrou s'n in die gemeente, reg?), in oproere, in arbeid, in slapelose nagte en so gaan Paulus aan. Mevrou stort haar uit vir haar man se bediening.

Dis waar dat die sinode nie vir mevrou direk in diens neem nie. Sy word deur haar man se posisie ‘n arbeider in die gemeente onder veral vroue en jeug. Sy besoek verkieslik elke sieke saam met haar man in die hospitaal of tuis, sorg dat die pastorie se deure oopstaan, reel alle feeste, basaars en studiegroepe vir vroue en kinders. Hierdie lysie kom met die pastorie saam. Eintlik kom dit van die groot S en met die tyd saam le die onsigbare lysie uitgeskryf deur die gemeente van toeterenteid tot nou. Kon sy nie tussen die lyne lees nie piets die swepie fel, vra haar maar. Elke slag druis deur haar lyf en ken sy later die geringste nuanse van die ongeskryfde lyne.

Mevroue Dominees word na die huwelik geprogrammeer. Die sinode stel hulle op vinnig, vinniger en vinnigste . Baie sou vashaak op vinnigste maar steeds sal teedrink en soetkoek eet tannies in die gemeente daarop hamer dat hulle nog ‘n stap verder kan gaan. Pappie hoofouderling is al stapelgek oor kwellinge wat jaar in en uit stroom sonder ophou. Tuis voer sy vrou hom met alles wat die gemeente se soos dat hy moet vir dominee se om met Mevrou te praat. Daars dinge wat sy doen wat die gemeente kan skeur. Sy is nie juis effektief om basaar te reel nie en sal kreatief moet leer dink, haar drie seuns steel appelkose saans wanneer sy by die vrouebybelstudies sit en gorrel oor Bybeluitleg. ‘n Gebore leier is sy nou eenmaal nie. Nugter weet waar die leiereienskappe vandaan gaan kom om die Vrouediens vergaderings te red van ondergang. Tuis is sy nie veel beter nie. Elaine se sy het juis nou die dag iets onwelriekends in mevrou se kombuis ervaar. Baie weet vir ‘n feit dat die tweede jongste in die hospital met longontsteking le omdat mevrou te veel uithuisig is. Dis ‘n wonder die baba het nog nie daar opgeeindig nie. Mevrou behoort van beter te weet siende dat sy haar meestersgraad in verpleging het.


Uitbranding kan met almal gebeur. Alleen maar Mevrou Dominee brand nie uit nie. Vir haar sit vroue en seniors triomfanklik op die lang, dun naald se skerp puntjie. ‘Supervrou in die gemeente “ kraai dit in die dorp se teekamer sodat die Baptiste eienares van “Twigs and Roses” darem kan weet. Kos natuurlik harde werk om haar daar te kry. Stil is soet en stil is goed vibreer mevrou. Haar vingers spin silwer drade tussen huis en verpligting. Elke steek le goud in die son en blink as die basaar wag vir die afskop. Koffers vol klingels vul ons vroue se harte oor die harde werk soveel oplewer. Mevrou is die ster vir nou.

Elsa, wat sien jy as jy saans naak voor jou spieel staan en jou hart oopskeur in die stilte van die nag? Jou bene, arms en hande is ryp gevorm. Elke gemeente laat merke sodat jy meer kan leer. Pas en rigting is ingekerf. Omdraai is daar nie, vorentoe le die swaar van elke dag se las en vreugde. Polsend sy asemteug van jou man in sy slaap spoor jou aan tot meer. Jou oor luister bedags brawend as die skeertonge sy menswees uithang met hul ewige vuil wasgoed op die draad. Agter jou pragtige waaksame oe knars jare se skerwe. Trane vloei nie buitentoe nie. Ek sien jou sluk aan die strome daar binne.

Dames aand







Het nogal vanaand geniet. Ons het 'n damesaand by die kerk gehad en sommeer net uitgehang, soos die tieners mos se. Vanaand se dekorasie is alles met papier gedoen. Papier (toilet papier) rose, ou rokpatrone en koerantpapier asook wit tekenpapier.

Was prettig om dit te maak.

Hammies en Melkskommel


Die lekkerste melkskommel in Calgary en groot hammies vir die seuns.

Tuesday, February 7, 2012

Februarie 2012

Wat 'n wonderlijke weer het ons nie. Gister was 4 grade, Vrydag d.v. 7 grade. Bly jy in die Noord-Amerika, is 7 grade 'n bonus! Baie gaan aan op die oomblik. Mark is op en af die bus die hele week lank, uur stad toe, uur terug so hy werk baie hard om by alles uit te kom. Die seuns werk ook baie hard, hulle probeer hul bes. Aanlyn klasse is nogal moeilik, maar hulle hou aan en uit. Eksamentyd is darem verby.

Tuesday, January 17, 2012

Heimwee

Ousies

Ek kan nie verby Sara en Katrina en Maria en Julia, selfs ou Julia, dink sonder om in trane van verdrink te baai nie.

Soms sal ek sommer net vir lekker heimwee-eina le en dink aan al die Ousies. Pragtige naamwoord, die van Ousie. Ousies was sonskyn mense. Hulle het jou altyd laat dink jou probleme is groter as hulle s'n. Nooit het ek hulle hoor kla nie. Ja, daar was skete en dinge, maar regtig kla, nee nie wat ek kan onthou nie. Eenkeer het ek vir 'n ousie gevra wat praat sy so hardop in Zulu wat ek nie kan verstaan nie. Skouer-ophalend het sy gese sy praat sommer oor die dinge by die huis. Wat wou ek weet, maar sy het net gemompel oor iets van iets. Sekerlik het sy nie 'n maklike lewe geken nie. Dis te seer om te dink oor wat alles al met Ousies in hierdie lewe gebeur het. Soontoe wil ek nie dink nie. Die armstes van armes...

Ousies was mense wat chaos in orde kon skep. Stap sy Maandagoggend in die huis, dan wil ek haar om die hals val. Die donkerte van die naweek se deurmekaar huis verdwyn gou. Sy is hier om my onvermoe te kom regmaak. Soos altyd wanneer sy drie-uur huistoe gaan, is die kamers netjies, die beddens vars, baddens geskrop en beste van alles, die alewige wasgoed is gewas. Dinsdag kom sy in om te stryk. Alles, van die panties tot die lakens. Moenie vir haar sy sy moenie onderklere stryk nie. Nee, ousiesis netjies en hulle stryk alles plat.

Ousies was kindertyd daar om mee te gesels. Min het hulle teruggepraat of raad gegee, net geluister terwyl hul afstof en stuk-stuk aanskuifel met die meubelstukke langs. Dan het ons kinders land en sand ons harte uitgepraat. Geglo hulle luister intens. Nou weet ek hulle was baie geduldig en beleefd om ons maar te laat voort babbel en krabbel in kinder onvermoe.

Kom elfuur teetyd, dan is ons daar, saam met hulle op die gras. Sulke dik stukke witbrood met suiker-soet koffie maak hulle vir al die energie wat al uitgewerk is. 'n Kar kan nie sonder die petrol loop nie, se hulle dan as ons wil weet waar is ons s'n. Ons moet maar loop speel. Nee, dit was te lekker om by die ousies te sit en kyk hoe hulle slurp en staar en brood in koffie druk. Ons speel om hulle. Zulu-klanke in die erf, dit maak ons lekker voel.

Hier in die verre Noorde van die wereld is daar nie ousies soos die van Afrika nie. Sulke juwele kry mens nie. Dis anders hier. As jy 'n "maid" kan bekostig, dan dink jy tweekeer of is dit regtig nodig. Hulle kom net in en uit en dis dit. Nikse gelekkerte omtrent hulle nie. Praat nie eens van was en stryk en skrop nie. Dis alles net so bolangs gedoen, sonder hart of siel.

Ons ou Ousies van Afrika. Glinster wit tande in Afrika se son. Kopdoeke vir Afrika. Sunlight seep reuk. Overalls en voorskote en tekkies. Huistoe gaan tyd is ingepak in Shoprite sakkies, 'n koebaai waai by die agterdeur en 'n skoon huis. Maar die beste van alles is die nageur van die Ousie se sorg.

Saturday, January 14, 2012

Tuis vandag


tuis vandag,
Michael het na die Y gegaan vir 'n lewensredding kursus
Andre het geleer vanoggend vir eksamen
Mark het koffies tuis gedrink
ek het die kinders karwei
en toe vanaand het
hulle almal by die
Mckenzie Lake gaan skaats